… Alles staan of val by My.
Hou vas wat julle het tot die einde toe.
Ek het julle vrygekoop en naby my gebring met liefde - naby My hart. Vanuit hierdie posisie sal julle My hande en voete wees in die nuwe seisoen. Moenie weg beweeg uit hierdie plek nie, moet ook nie terugkyk nie - Ek is nie meer daar nie.
Kyk na waar Ek julle heen lei en fokus daarop.
Ek sien julle getrouheid en gehoorsaamheid raak. Julle het harde tye deurgemaak en getrou gebly aan My. Julle het nog altyd gebid en die aanvalle van die vyand weerstaan. Julle het voortgegaan met groot moeite en ‘n duur prys betaal. Julle het baie maal oorwin en grondgebied gewen. Hou aan oorwin! Daar is baie onder julle wat My wil en waarheid soek met hulle hele harte. Julle was getrou om My stem te gehoorsaam en nie gewilde opinies te volg nie. Julle het nie gesoek vir geld, gewildheid en mag nie, inteendeel julle begeerte was om My Naam te eer en te verheerlik.
Julle kom uit ‘n tyd van reiniging waar julle deur die water en die vuur moes gaan sodat julle My sal ken in tye van swaarkry en seën. Sommige van julle dra littekens as gevolg hiervan, as ‘n herinnering aan My genade en nie My oordeel nie.
Daarom sal Ek julle gebruik as ‘n kragtige instrument in My hand om die koring uit te wan, om My kerk skoon te maak. Die meulsteen is besig om momentum op te bou en die kaf gaan meer en meer ontbloot word.
Wees getrou en gehoorsaam!
Ek het dit teen julle dat daar mense is wat in hulle harte nog onvergewensgesindheid en bitterheid dra. Daar is ook mense wat nog nie in eenheid wandel nie weens hoogmoed in hulle harte. Kom tot inkeer en bely julle sondes, maak skoon julle harte.
Ek wil julle wonderlike en weggesteekte geheime wys.
Ek het dit teen julle dat daar mense is wat passief is en kortkom in toewyding aan My doelwitte en planne wêreldwyd. Dit is nie nou die tyd vir persoonlike opinies en arrogante stellings nie. Die wêreld is op ‘n mespunt. Ek soek opregte intense gebede van geloof vir die wêreld van My kinders om op te reageer.
Ek het julle ‘n pilaar van lig gemaak vir hierdie volk – in die middel as ‘n baken van hoop en waarheid. Omdat julle julleself in My geanker het sal julle nie beweeg word nie. Betoon My liefde aan die wêreld en vergroot My grondgebied. Ek roep julle as gemeente om te heers in hierdie seisoen deur die swaard van My Woord, die vuur van die Heilige Gees wat sigbaar is in julle lewens, om My geregtigheid op die aarde te vestig.
Aanbidding sal ‘n sleutel wees tot ‘n oop hemel. Ek het ‘n deur oopgemaak wat niemand kan sluit nie.
Maak seker julle word nie mislei deur vleiery nie. Volhard in die tyd van toetsing wat voorlê. Aan hom wat oorwin sal ek die ewige lewe gee in die koninkryk van my Vader. Vir elkeen wat oorwin wag daar groot skatte in My.
Skep moed, ONS is met julle.